Digibron cookies

Voor optimale prestaties van de website gebruiken wij cookies. Overeenstemmig met de EU GDPR kunt u kiezen welke cookies u wilt toestaan.

Noodzakelijke en wettelijk toegestane cookies

Noodzakelijke en wettelijk toegestane cookies zijn verplicht om de basisfunctionaliteit van Digibron te kunnen gebruiken.

Optionele cookies

Onderstaande cookies zijn optioneel, maar verbeteren uw ervaring van Digibron.

Bekijk het origineel

Godsdiensonderwys in die Suid-Afrika

Bekijk het origineel

+ Meer informatie

Godsdiensonderwys in die Suid-Afrika

22 minuten leestijd Arcering uitzetten

Wat het van Godsdiensonderwys in die nuwe Suid- Afrika geword sedert die 1994 verkiesing? In hierdie artikel word onder andere 'n kort oorsig gegee van die beleidsrigtings van die nuwe regering en die huidige situasie van Godsdiensonderwys hier ter lande. Afsluitend word enkele toekomsperspektiewe aangedui.

In 'n vorige artikel in de Reformatorische School, juni 1994 - 22e jrg. nr. 6, is, onder die opskrif 'Rellgieuse Opvoeding in die nuwe Suid-Afrika', 'n vooruitskouing gegee van moontlike opsies vir godsdiensonderwys in die nuwe Suid-Afrika, wat toe pas deur 'n volledig demokratiese verkiesing tot stand gekom het. Die term Religieuse Opvoeding is in die voormelde artikel gebruik omdat dit in daardie stadium in akademiese gesprekke die mees gebruikte term was en geglo is dat 'Religieuse Opvoeding', wat enkele van die godsdienste met die meeste aanhangers in die Suid-Afrikaanse samelewing sou behandel, die mees waarskynlike toekomstige skoolvak vir godsdiensonderwys in openbare staatsondersteunde skole in die nuwe Suid-Afrika sou wees.

Dit het toe nie gebeur nie. Beleidsvoorstelle van regeringskant is met heftige teenreaksies vanuit die Suid- Afrikaanse samelewing begroet. Dit het tot baie intense debatvoering gelei ten einde ideaal en werklikheid te probeer versoen.

Die term 'Godsdiensonderwys' word in hierdie artikel gebruik om enige/ alle onderwys in godsdiens aan te dui, hetsy Christelik of Judaïsties of Islamities of enige ander onderwys in 'n bepaalde godsdiens asook multireligieuse godsdiensonderwys wat gewoonlik bekend staan as Religieuse Opvoeding, waarin leerlinge blootgestel word aan die geloofstandpunte van verskillende godsdienstige beskouinge. Daar word met die huidige artikel beoog om:

1. aansluiting te vind by wat in 1994 in die vorige artikel geantisipeer is

2. die belangstelling van die Suid- Afrikaanse samelewing in godsdiensonderwys, na die 1994verkiesing, saam te vat

3. 'n sinoptiese oorsig te gee van die relevante dele in sake Godsdiensonderwys in die beleidsdokument van die nuwe regering ten opsigte van onderwysersopleiding, met kommentaar op hierdie beleidsdokument

4. die relevante artikels rakende Godsdiensonderwys in die nuwe Grondwet uitte lig

5. die huidige en verwagte stand van Godsdiensonderwys aan opvoedkundige inrigtings in Suid-Afrika saam te vat onder die hoofde: 5.1 Die huidige stand 5.2 Die toekoms 5.2.1 Curriculum 2005 5.2.2 Die toekomsvisie van die Ministerie van Onderwys

6. af te sluit met gevolgtrekkings en toekomsperspektiewe.

Suid-Afrika is in sy pluralistiese bevolkingsamestelling geensins uniek nie en derhalwe mag wat in Suid-Afrika gebeur ook vir ander insiggewend en van waarde wees.

1. 'n Terugskouing

In die vorige artikel is verskillende moontlikhede vir godsdiensonderwys in openbare skole in die nuwe Suid-Afrika bespreek, te wete

1.1 Geen godsdiensonderwys nie. Alle godsdiensonderwys word daardeur die uitsluitlike verantwoor-

delikheid van die ouer en die kerk. 1.2 Een of meer vakke wat die godsdienstige beskouinge van die godsdienste met die meeste aanhangers in die pluralistJese Suid- Afrikaanse samelewing toelig. Dit sou, in ooreenstemming met die nuwe Grondwet, vryheid van godsdiens sonder enige vorm van dwang en/of diskriminasie moes waarborg.

Teen hierdie agtergrond is drie moontlike opsies bespreek, te wete:

1.2.1 In die lig van die feit dat verreweg die meeste Suid-Afrikaners volgens die voorafgaande sensus aangedui het dat hulle die Christelike geloof aanhang, sou Bybelonderrig (Christelike godsdiensonderwys) aangebied kon word met een of meer nie-religieuse keusemodules vir enige leerling wat sou verkies om nie Bybelonderrig te neem nie.

1.2.2 Parallelle godsdiensmodules vir enkele van die godsdienste met die meeste aanhangers in die Suid- Afrikaanse bevolkingsamestelling, weereens met een of meer nie-religieuse keusemodules vir die studente wat dit sou verkies.

1.2.3 'n Spesifieke vak, te wete Religieuse Opvoeding, aan te bied waarin die geloofsbeskouinge van enkele godsdienste wat die meeste aanhangers in Suid-Afrika het, behandel word, met Bybelonderrig en/of nie-religieuse keusemodules as alternatiewe keuses.

Die slotsom van die artikel was dat alle godsdiensonderwys in openbare skole in Suid-Afrika die geloofs- en gewetensvryheid wat in die Grondwet gewaarborg word, sal moet honoreer. In die lig van die oorgrote Christelike komponent in die Suid- Afrikaanse samelewing, sou dit wenslik wees dat Bybelonderrig minstens 'n keusemodule moes wees in die toekomstige kurrikula van religieuse onderwys.

Die betrokke artikel was dus 'n teoretiese vooruitskouing van wat in die nuwe Suid-Afrika verwag sou kon word.

Die kernvraag in hierdie stadium, drie jaar na die bogemelde verkiesing, is wat sedertdien van godsdiensonderwys in die kurrikula van openbare skole in Suid-Afrika geword het.

2. Belangstelling van die Suid- Afrikaanse samelewing in godsdiensonderwys

Tot en met die 1994 verkiesing het godsdiensonderwys in openbare skole in Suid-Afrika bestaan uit Bybelonderrig wat as 'n verpligte, nie-eksamenvak oor die volle twaalf skooljare aangebied is. (cf. Art. 62 van Wet no. 70 van 1988). Slegs leerlinge wie se ouers op gewetensgronde skriftelik versoek het dat hulle kinders van Bybelonderrig vrygestel moes word, is van sodanige klasse vrygestel. In die afwesigheid van enige keusemodule(s) vir die laasgenoemde leerlinge, het hulle gedurende Bybelonderrigklasse geen ander onderrig ontvang nie.

Die invalshoek van Bybelonderrig was oorwegend Calvinisties-Reformatories. in enkele gevalle, waar die skoolhoof 'n ander geloofstandpunt gehuldig het, kon dit gebeur dat geen godsdiensonderwys aldaar onderrig is nie, ten spyte van die 'verpligte' aard van die vak.

'n Onderwyser(es) se bereidwilligheid om Bybelonderrig te gee is as 'n indiensnemingskriterium gestel in alle advertensies om vakante betrekkings in die onderwys. Dit het daartoe gelei dat die vak in die praktyk deur enige 'beskikbare' leerkrag onderrig is. Die kriterium vir onderrig was dikwels nie belangstelling.

Christelike geloofsvolwassenheid en profesionele bevoegdheid nie maar watter leerkragte op die skoolrooster beskikbaar was nadat vir die 'akademiese' eksamenvakke voorsiening gemaak is. Die gevolg van dit alles was dat Bybelonderrig dikwels in die klaskamers van onbelangstellende en onbevoegde leerkragte ontaard het in klasse waarin niks van Bybelonderrig tereg gekom het nie. In sulke gevalle het leerlinge die tyd gebruik om hulle huiswerk vir ander vakke te doen.

'n Verdere nadeel van die 'verpligte' aard van die vak was dat baie ouers, onder die indruk dat die skool in die Christelik-religieuse opvoeding van hulle kinders voorsien, oorgerus en algeheel onbetrokke was by wat op skool in die vak gebeur het.

Diè situasie het na die 1994 verkiesing dramaties verander namate die nuwe regering in al hoe meer uitsprake 'n sekulêre staatsbestel voorgestaan het. Ouers het bekommerd geraak dat die Christelike karakter van die onderwys sou verdwyn en dat hulle kinders aan vreemde ideologieë blootgestel sou word. Die gevolg was daadwerklike reaksie vanuit die Suid-Afrikaanse samelewing wat uitgeloop het op versoeke en voorleggings vanaf kerke, forums, kommissies, verenigings en indiwidue tot die regering, nie slegs om die behoud van, maar ook om inspraak in die samestelling van die kurrikula van Bybelonderrig in die openbare skole van die land. Die laasgenoemde reaksie het veral momentum gekry toe die voorneme van die regering bekend geword het om alle godsdiensonderwys in skole te kanaliseer in die vak Religieuse Opvoeding wat uitdrukking moes gee aan die verskeidenheid van kuiture en godsdienste wat in die Suid- Afrikaanse samelewing voorkom. Christenouers is bekommerd dat hulle kinders blootgestel sal word aan nie-Christelike godsdienste wat ander gode aanbid, nie vir Jesus Christus as die enigste Verlosser (cf. Joh. 14:6) erken nie en gebruike en beginsels sal verkondig wat nie slegs lewensvreemd vir hulle kinders sal wees nie maar ook religieus verwarrende gevolge, veral by laerskoolkinders, kan meebring, omdat die beoogde 'Religieuse Opvoeding' nasiebou bo geloofsbou stel. Die bogenoemde beleidsrigting van die regering is intussen gepubliseer in die 'Committee on Teacher Education Policy (COTEP)'-dokument, soos hierna toegelig.

3. Die COTEP- beleidsdokument

Gedurende Februarie 1995 is die COTEP-besprekingsdokument gepubliseer wat die norme, standaarde en

die riglyne van die regering vir die opleiding van onderwysers in die nuwe Suid-Afrika uitgespel het.

Die doel met hierdie dokument was om 'n nasionale beleid vir die opleiding van onderwysers daar te stel omdat sü-iets in Suid-Afrika ontbreek het. In die verlede het die voormalige vier onderwysdepartemente van die Kaap, Transvaal. Natal en die Oranje- Vrystaat, elkeen sy eie beleid ten opsigte van onderwysersopleiding bepaal (COTEP, 1995:1).

Die COTEP-dokument word deur sy opstellers beskryf as 'n radikale paradigmaverskuiwing van die 'content, additive product model' na 'a process-orientated approach to teacher

education' wat die konteks waarin onderwysers opgelei sou word, in ag sou neem (COTEP, 1995:1).

Die voorneme was 'to set norms and standards which all teachers will have to achieve, thus ensuring a uniformly high quality of teacher education and eliminating current disparities' (COTEP, 1995:2) Die 'norms and standards are aimed at

ensuring the quality of teacher education within an equitable, democratic, non-racial, non-sexist education system' (COTEP, 1995:3). Innoverende en kreatiewe maniere om nuwe kurrikula te ontwikkel, word in die dokument sterk beklemtoon (COTEP, 1995:1).

Die komitee het geoordeel dat 'an officially qualified teacher' 'n persoon is wat in besit is van 'n goedgekeurde onderwyskwalifikasie van minstens 3 jaar tersiêre opleiding. In terme van hierdie kriterium is 45% van veral die swart leerkragte in Suid- Afrika, on-/ondergekwalifiseerd (COTEP, 1995:3).

Een van die doelstellings vir die opleiding van onderwysers lui:

'1.2.1 The fundamental aim of teacher education is to educate and train teachers to teach effectively in order to facilitate learning, recognizing the full complexity of the South African context. This will require teachers to teach in accordance with the enunciated goals of education and the particular ethos of their school'(COTEP, 1995:6)'

Hierdie uiters belangrike beklemtoning van 'n eie etos vir elke skool word in par. 1.4.4 (p.42) nader omskryf:

'This aim determines the need for each institution to develop an ethos with which students may identify. Each institution is also required to establish a professionally appropriate

ethos which accomodates national educational goals, but also gives expression to the particular culture of the institution.'

Die beklemtoning van die verskeidenheid van kulture in die Suid- Afrikaanse samelewing word benadruk in die algemene vaardighede ('general competencies') wat van elke onderwyser verwag word. So byvoorbeeld word die verlangde waardes, houdings en gesindhede ('values/attitudes/dispositions') vir elke leerkrag (cf. p.10) op p. 24 omskryf as 'n sensitiwiteit vir multikulturele verskille en die bereidheid om homself/haarself op die hoogte te bring van al die kulture wat in 'n skool verteenwoordig word.

insluitende 'n sensitiwiteit vir verskillende kulturele en religieuse gebruike asook 'n bewustheid van die religieuse dimensie van die lewe.

Teen hierdie agtergrond is ses 'fields of study and practice' gefdentifiseer waaraan enige kurrikulum vir die opleiding van onderwysers moet voldoen (COTEP, 1995:44). Die ses studievelde is:

(1) Opvoedkunde (2) Professionele studies (3) Hoofvakke (4) Kommunikasie (5) Religieuse Opvoeding (6) Onderwyspraktyk

Die doelstelling met Religieuse Opvoeding is omskryf as die ontwik­

kelingvan 'n bewustheid van die religieuse dimensie van die lewe en van religie in 'n multikulturele gemeenskap. (COTEP, 1995:45)

Die praktiese implementering van hierdie doelstelling is as volg gekwalifiseer: 'Religious Education is offered subject to the condition that no specific doctrine or dogma which is characteristic of

any particular religious denomination or sect shall be taught and that students may be exempted on written application. Those students who are exempted will be required to choose an alternative course of equivalent academic rigour approved by the teacher education institution' (COTEP, 1995:58).

Enkele opmerkings oor die COTEPaanbevelings:

1. Dit is verblydend dat 'n nasionale beleid vir onderwysersopleiding deur die huidige regering nagestreef word.

2. Die 'process-orientated approach' en die ontwikkeling van 'innovative and creative curriculum development' met inagneming van bepaalde

kuiture, is prysenswaardige doelstellings. Die innoverende kreatiewe oorspronklikheid van leerkragte in die klaskamers sal die suksesvolle realisering van hierdie doelstellings bepaal.

3. Die beleid van 'affirmative action' en die 'bemagtiging van die minder bevoorregtes' deur die regering, bring egter ongelukkig mee dat uiters bekwame en goed gekwalifiseerde blanke onderwysers(-esse) tans in hulle mees produktiewe jare met aftreepakkette uit die onderwys geneem word en met minder gekwalifiseerde swart leerkragte vervang word. Daardeur word die 55% onderwysers wat reeds oor 3 en meer jare tersiëre opleiding beskik, nog verder verminder. Die implementering van die COTEP-ideale gaan tans dus gepaard met politieke kriteria wat nie altyd in die beste belang van die onderwys is nie. Baie 'regstellende' aanstellings is polities en dikwels rassisties gemotiveerd, in plaas van akademies en professioneel verantwoord.

4. Religieuse Opvoeding is uit die aard van sy vakinhoudelike karakter by uitnemendheid daarvoor toegerus om die gestelde ideale ten opsigte van waardes, houdings en gesindhede te verwesenlik.

5. Die beginsel dat elke skool oor sy eie etos moet kan besluit, bied die ideale geleentheid vir die praktiese implementering van die grondwetlike vereiste van godsdiensvryheid. Dit bied die ruimte dat elke ouergemeenskap oor die etos van die skool wat hulle kinders opvoed, sal kan besluit. Die etos van 'n skool sal die kurrikulum van die godsdiensonderwys in daardie skool bepaal, bv. of dit Christelik, Islamieties, multireligieus, ens. sal wees. Op hierdie wyse sal die volle kompleksiteit van die spesifieke Suid-Afrikaanse situasie op die beste wyse erken en gedien kan word. Elke ouer/leerling het die vryheid om die skool met die etos van sy/haar keuse te kies en aldus oor die religieuse invalshoek vir die opvoeding van die kind te besluit. Vir diegene wat hulle onderrig binne 'n bepaalde etos verkies maar nie die vak godsdiensonderwys aldaar wil neem nie, sal een/meer keusemodule(s) in die kurrikulum ingeruim moet word.

4. Die nuwe Grondwet

Die nuwe Grondwet (1996) van die Republiek van Suid-Afrika voldoen aan die internasionaal aanvaarde beginsels vir menseregte soos onder andere uitgedruk in die bepalings insake godsdiensonderrig in staats- en staatsondersteunde skole. Vir die doel van hierdie artikel lui die belangrikste van hierdie bepalings as volg:

9 (3) 'The state may not unfairly discriminate directly or indirectly against anyone on one or more grounds, including race, gender, sex, pregnancy, marital status, ethnic or social origin, colour, sexual orientation, age, disability, religion, conscience, belief, culture, language and birth.'

15(1) 'Everyone has the right to freedom of conscience, religion, thought, belief and opinion.'

15 (2) 'Religious observances may be conducted at state or state-aided institutions, provided that- (a) those observances follow rules made by the appropriate public authorities;

(b) they are conducted on an equitable basis; and (c) attendance at them is free and voluntary'

Dit blyk dus uit die bogemelde artikels dat die nuwe Grondwet vryheid van godsdiens aan al die inwoners van Suid-Afrika waarborg. Die beoefening van hierdie vryheid van godsdiens, insluitende godsdiensonderwys, in staats- en staatsondersteunde skole is dus grondwetlik solank dit geen indiwidu se vryheid van keuse om daaraan deel te neem, aantas nie.

5. Die huidige en verwagte stand van godsdiensonderwys aan opvoedkundige inrigtings in Suid-Afrika

5.7. Die huidige stand Afgesien van wat in die Grondwet gepubliseer is, het tot op datum nog geen nuwe onderwyswetgewing insake godsdiensonderwys die lig gesien nie. Onderwysbeplanners besin tans oor hoe godsdiensonder­ wys in die kurrikula vir openbare skole in Suid-Afrika geakkommodeer sal word. Voorgestelde wetgewing is gedurende die eerste helfte van 1997 bekend gemaak. Kommentaar daarop deur alle belanghebbende partye is reeds ingedien. Die wetgewing word tans daarvolgens bygewerk. Tot en met die ter perse gaan van hierdie artikel was daar nog geen uitsluitsel oor wanneer die nuwe wetgewing gefinaliseer sa! wees nie. Dit sal na alle waarskynlikheid gedurende 1998 geskied.

Totdat nuwe wetgewing gepromulgeer word, geld verskeie interim sillabusse waaruit skole 'n keuse kan maak. Voorbeelde van hierdie interim sillabusse is Bybelonderrig, 'Religious instruction', en Scriptura (wat al drie Christelik van aard is), 'Right Living' ('n normgebaseerde godsdiensonderrigsillabus wat hoofsaaklik in Indiërgemeenskappe verkies word), 'n sillabus vir Jode (wat deur rabbi's geskryf is), asook sillabusse vir Hindoes en vir Islam (wat deur godsdiensleiers uit die onderskeie geloofsgemeenskappe saamgestel is). Daar word met groot afwagting uitgesien na die uitkoms van die nuwe onderwyswetgewing.

5.2 Die toekoms

5.2.1 Curriculum 2005 Gedurende Februarie 1997 het die Minister van Onderwys, prof. M. S. E. Bengu die 'Curriculum 2005 - our new national curriculum for the twenty-first century' (Curriculum , - 2005:1) bekend gestel. ; ,

Hy het beklemtoon dat die nuwe kurrikulum 'n paradigma-verskuiwing sal meebring. In plaas van die inhoudsgebaseerde beklemtoning van die verlede, sal die nuwe kurrikulum uitkomste in die onderwys nastreef. Die doel hiermee is om alle leerders toe te rus met die nodige kennis, vaardighede en lewensingesteldhede ('orientations') wat nodig is om sukses te bereik nadat hulle die skool verlaat het of hulle opleiding voltooi het. Die alles oorkoepelende doelstelling is opvoeding tot toekomstige denkende en bekwame landsburgers.

Die kurrikulum beoog om in die eerste plek opvoeding en opleiding sodanig te integreer dat weggedoen sa! word met 'n rigiede o nderskeid tussen akademiese en toegepaste kennisasook tussen teorie en praktyk en kennis en vaardighede. Dit streef 'n leerkultuur na wat menseregte, veeltaligheid {'multi-lingualism'), veelvolkigheid ('multi-cuituraiism') asook 'n sensitiwiteit vir waardes van versoening en nasiebou sal insluit (Curriculum 2005:1).

Daar is oorspronklik beplan om die nuwe kurrikulum in fases in te faseer te wete grade 1 en 7 in 1998, grade 2 and 8 in 1999, grade 3 en 9 in 2000, grade 4 en 10 in 2001, grade 5 en 11 in 2002 en grade 6 en 12 in 2003. Die nuwe kurrikula sou dan in 2004 en 200 hersien en verbeter word met die oog op die bereiking van die gestelde doelstellings. (Curriculum 2005: 18)

Daar word egter tans probleme ondervind met die implemente-ring van die program. Dit blyk nou dat die totale omvang van die program te omvangryk is vir die beoogde tyd om die kurrikula en leermateriaal te ontwikkel en die nodige onderwysers betyds te kan oplei. Die infasering moes dus alreeds gewysig word sodat die nuwe kurrikulum in 1998 slegs in graad 1 ingefaseer sal word. Die algehele infase-ringsprogram sal dus alreeds met minstens 'n jaar aangeskuif moet word.

Die nuwe kurrikulum dek agt verskillene leerareas(cf. Curriculum 2005:14-15):

1. Kommunikasie, Geletterdheid en Taalvaardighede 2. Syfervaardigheid en Wiskunde 3. Menslike en Sosiale Wetenskappe 4. Natuurwetenskappe 5. Kuns en Kuituur 6. Ekonomiese en Bestuurswetenskappe 7. Lewensoriëntasie 8. Tegnologie

Godsdiensonderwys vorm deel van die Lewensoriëntasie leerarea.

Die Curriculum 2005 dokument benadruk dat die klem in toekom­ stige onderwys op 'uitkomste'sai val, dit wil sê wat van die leerder word en wat hy/sy verstaan (cf. p.7). Met betrekking tot die uitkomste van leerareas vervolg die dokument: 'Every learning area will have its own broad outcomes which are called the Learning Area Outcomes. These are the general skills, abilities and values a learner will be expected to demonstrate in that learning area.' The 'Specific Outcomes refer to the spesific knowledge, attitudes and understanding which should be displayed in a particular context' (p.l 7).

Hierdie uitkomsgebaseerde onderwys is daarop gemik om leerdergesentreerd te wees en die leerproses relevant en praktykgerig te maak. Die leerprogramme, wat as riglyne dien vir onderwysers(-esse) om op innoverende en kreatiewe wyses nuwe programme te ontwerp, skep vir leerkragte in godsdiensonderwys die ruimte om geloof en lewe in die milieu en alledaagse praktyk van die Suid-Afrikaanse samelewing lewend en betekenisvol te konkretiseer.

'n Probleem van 'n bale ernstiger aard is egter dat hierdie beleidsdokument van die regering 'n betekenisvolle klemverskuiwing ten opsigte van die COTEP-dokument openbaar. Waar die COTEP-dokument Religieuse Opvoeding as 'n verpligte leerarea geidentifiseer het, word godsdiensonderwys in die Curriculum 2005 dokument afgewater tot 'Lewensoriëntering'.

Die Suid-Afrikaanse publiek het bale sterk op die Curriculum 2005 dokument en in die besonder op die 'Lewensoriëntering' gedagte gereageer. Dit het daartoe gelei dat 'n nuwe voorgestelde Curriculum 2005 dokument gedurende November 1997 gepubliseer sal word vir finale kommentaar voordat 'n finale nasionale beleidsdokument opgestel sal word. Die nuwe voorgestelde Curriculum 2005 dokument sal deur middel van 'n klousule bekend maak dat 'n finale besluit oor godsdiensonderwys voorlopig uitgestel word. Onderwysbeplanners verwag dat die nuwe dokument asook uitsluitsel oor godsdiensonderrig in 1998 gefinaliseer sal word. 'n Finale besluit oor die wyse van evaluering, te wete uitkomste en/of eksaminering, sal ook geneem word. Dit is verder reeds 'n uitgemaakte saak dat die voorstel aangaande Religieuse Opvoeding, synde 'n verpligte module oor multireligieuse godsdiensonderwys, waarin enkele godsdienste met die meeste aanhangers in Suid-Afrika aan alle leerlinge onderrig sou word, van die baan is. Daar kan net gehoop word dat elke ouergemeenskap toegelaat sal word om self te besluit oor die etos van die skool waar hulle kinders onderrig word, en daaruit voortvloeiende, oor die godsdiensonderwys wat aldaar onderrig behoort te word.

5.2.2. Die toekomsvisie van die Onderwysministerie Op 3 Julie 1997 het die adjunk-minister van Onderwys, vader Smangaliso Mkhatshwa, by 'n internasionale kongres oor multireligieuse onderwys in Pretoria, die erns van die regering beklemtoon om 'n gemeenskap daar te stel waarin 'vryheid van godsdiens en geloof' in ooreenstemming met die Grondwet, gewaarborg sal wees.

Hy het by dié geleentheid gesê: 'Having adopted a position of nonalignment to any religious tradition or denomination, the government nevertheless welcomes active and constructive inter-action with all religious traditions and organisations. To this end the Constitution also provides for the establishment of a commission for the promotion and protection of the rights of cultural, religious and linguistic communities. Legislation in this regard is expected to be passed in the not too distant future.'

Met verwysing na Curriculum 2005 het hy gesê '.... it recognises religion as an integral part of the human experience. Whether referred to explicitly or implicitly, the positive influence of spirituality within a social and educational environment is wellacknowledged.

'It is therefore neither true nor fair to say that religion, as is often alleged, is totally banished from the new national curiculum. This misconception could most probably be tracked

back to the fact that the new national curriculum does not envisage the continuation of individual subjects as we use to know them. Accordingly there will no longer be a subject like Religious Education in our curriculum, but that will also be true of a subject like History or Mathematics. However, I believe that in almost all of the so-called learning areas a religious dimension, whether explicitly or implicitly, can be developed through imaginative and skilful planning.'

Hy het op drie gevare gewys wat begrip vir godsdiens in die onderwys kan versteur. Godsdiens in die onderwys moet nie gesien word as:

(1) geloofsversorging of religieuse onderrig nie

(2) 'n private aangeleentheid slegs vir geloofsgemeenskappe nie. Dit is ook 'n noodsaaklike onderdeel van die onderwyskurrikulum.

(3) sedelike opvoeding nie.

Hy het vervolg: 'Religion in education should feature in exactly the same way as other learning areas and should also be subjected to the same outcomes and criteria, it is therefore as informative as any other area of the curriculum. this area will be invaluable for the creation of an atmosphere of respect and understanding in our religiously pluralistic society.

religion in education also has a formative function. the unique contribution of religion to the process of learning is to be found in asking ultimate questions, in offering ultimate truths and in accepting the ambiguity of life. Religion is therefore as much formative as it is informative.'

5.2.3 Cevolgtrekkings en toekomsperspektiewe (1) Dit blyk dat die regering godsdiensonderwys in die skoolkurrikulum wil gebruik om nasiebou in 'n pluralistiese samelewing te bevorder. Godsdiens word derhalwe as 'n middel tot 'n doel en nie in die eerste plek as 'n doel op sigself, getrou aan sy eie aard, wese en eie doelstellings, gesien nie.

(2) Die laasgenoemde doelstelling beklemtoon die rol van godsdiens as 'n brugbouer in 'n religieus plurale gemeenskap. Hierdie perspektief en invalshoek sal in die Suid-Afrikaanse konteks beslis verskil van wat menige ouer van godsdiensonderwys en die vormende waarde wat dit vir hulle kinders mag hê, sal verwag.

(3) Dit is noodsaaklik dat begryp sal word dat godsdiens in die onderwys nie slegs 'n implisiete en eksplisiete onderdeel van die verskillende leerareas moet uitmaak nie, maar dat dit 'n uiters belangrike leerarea op sigself is.

(4) Die doel, plek en status van godsdiens in die onderwys is tot dusver baie vaag gedefinieer in die formulering van 'n nasionale onderwysbeleid.

(5) As gevolg van die laasgenoemde feit is die vak tot in die hede aan die keuse en diskresie van onderwysers (-esse), ouers en leerlinge oorgelaat om dit betekenisvol en relevant te maak.

(6) Dit, sowel as die realiteit dat godsdiensonderwys nie uitdruklik as 'n leerarea in die nuwe kurrikulum aangedui word nie, laat die deur wyd oop vir die moontlikheid dat godsdiensonderwys, deur diegene wat dit sou wou doen, algeheel buite rekening gelaat sou kon word. Daar word tans vertrou dat dié probleem in die nuwe Kurrikulum 2005 dokument meer bevredigend aangespreek sal word.

(7) Indien die laasgenoemde nie gebeur nie, is dit alreeds duidelik dat die manier waarop die regering godsdiens-onderwys in die onderwys hanteer, nie die meerderheid van ouers tevrede sa! stel nie, hetsy of hulle Christene, Jode, Moslems of Hindoes is.

(8) Dit is baie waarskynlik dat indien 'n bevredigende oplossing vir godsdiensonderwys in openbare skole in Suid-Afrika nie gevind word nie, baie ouers daartoe sal oorgaan om hulle te beywer vir geprivatiseerde skole en tersiêre inrigtings, ten einde die gewenste godsdienstige grondslag vir die opvoeding van hulle kinders te verseker. Hierdie proses het al klaar begin. Daar bestaan alreeds verskeie private skole in Suid-Afrika, sommige as 'n direkte gevolg van die feit dat sommige ouers nie glo dat die regering ooit 'n bevredigende oplossing vir die probleem sal aanbied nie. Die eerste private universiteit in Suid- Afrika is gedurende Oktober 1997 in die vooruitsig gestel.

(9) Die realiteit is dat daar baie min ouers in Suid-Afrika is wat finansieel daartoe instaat is om geprivatiseerde onderwys te kan bekostig. Met die steeds verswakkende ekonomie is die vooruitsigte dat dié situasie sal verbeter maar skraal. Vir diegene wat nie geprivatiseerde onderwys kan bekostig nie kan dit toenemende frustrasie en ontevredenheid meebring. Dit kan lei tot verdere leerling-, ouer- en selfs vakbondonrus wat onder andere die ekonomie, die onderwys en onderlinge verhoudinge kan ondermyn. Dit sou geensins vergesog wees om te verwag dat hierdie aspek 'n deurslaggewende twispunt in die volgende algemene verkiesing in 1999 kan word nie. (10) Die beste oplossing vir die problematiek van godsdiensonderwys in openbare skole in Suid-Afrika, ten einde aan die eise van die Grondwet te voldoen, is waarskynlik om elke ouergemeenskap toe te laat om oor die etos van die skool in hulle gemeenskap te besluit. Dié etos sal die aard en die inhoud van die leerplan van die godsdiensonderwys wat in elke betrokke skool onderrig moet word, op die beste wyse bepaal, hetsy of dit Christelik, islamities, Hindoeïsties, Judaïsties of multireligieus van aard sal wees.

Dr. R. Murray

Bibliography

- COTEP DOCUMENT. 1995. Norms and standards and governance structures for teacher education. Discussion document.

- CURRICULUM2005. 1997. Lifelong learning for the 21 st century. Pretoria: Government Printer.

- MKHATSHWA, SM. 1997. Multi-rellglous education. Speech delivered on Thursday 3 July 1997 at the conference on multlrellglous education held at the University of South Africa In Pretoria.

- SOUTH AFRICA (REPUBLIC). 1996. The Constitution of the Repubic of South Africa. Pretoria: Government Printer.

- SUID-AFRIKA (REPUBLIEK). 1988. Wet op Onderwys en Opleiding. Wet no. 70 van 1988. Pretoria: Staatsdrukker.

Dit artikel werd u aangeboden door: De Reformatorische School

Deze tekst is geautomatiseerd gemaakt en kan nog fouten bevatten. Digibron werkt voortdurend aan correctie. Klik voor het origineel door naar de pdf. Voor opmerkingen, vragen, informatie: contact.

Op Digibron -en alle daarin opgenomen content- is het databankrecht van toepassing. Gebruiksvoorwaarden. Data protection law applies to Digibron and the content of this database. Terms of use.

Bekijk de hele uitgave van woensdag 1 april 1998

De Reformatorische School | 44 Pagina's

Godsdiensonderwys in die Suid-Afrika

Bekijk de hele uitgave van woensdag 1 april 1998

De Reformatorische School | 44 Pagina's